Jy is genoeg – in Christus

Ons is drie dogters wat grootgeword het met hierdie eenvoudige, maar diep waarheid: daar sal altyd iemand wees wat mooier, slimmer of meer “perfek” is as jy – en dis reg so. Jy hoef nie iemand anders te wees nie. Wees net jý. Vind jou identiteit in Jesus. Hierdie woorde het diep in my hart posgevat, en ek dra dit elke dag saam met my. Dit herinner my telkens aan wie ek in Christus is, en wat ek in Hom gevind het – vrede. ’n Onskatbare geskenk van God.

In ’n wêreld waar ons daagliks aangemoedig word om meer te hê, beter te presteer, en harder te probeer, raak ons maklik moeg om aan te jaag agter iets wat nooit werklik sal vervul nie. Stil-vraend fluister ons harte: “Is daar nie meer as dit nie?” Die antwoord is eenvoudig – daar ís.

Daar is ’n onmeetbare waarde in iets wat geld nie kan koop nie, wat status nie kan bepaal nie, en wat geen sosiale platform kan meet nie. Dít is die waarde van God se geskenk aan jou: iets ewig, iets rein, iets wat jou siel rus gee.

Ons dink so maklik:

“As ek net meer geld gehad het …”
“As ek net mooier of maerder was …”
“As ek net daardie paar skoene kon hê …”
“As ek net weer in daardie broek pas …”
“As ek net meer likes kry …”
“As ek net meer raak gesien kan word …”
“As ek net meer vriende het …”
“As ek net meer bekend is …”
“As my kinders net …”
“As my man net …”

“As ek maar net …”

Maar ons vergeet dikwels dat dit nie gaan oor nóg iets van die wêreld nie. Ons het meer van God nodig – meer tyd in Sy teenwoordigheid, meer vrede, meer vervulling … die ware “wees”.

Want wat beteken daardie “bietjie meer” as dit net hier agterbly? Wat beteken dit as dit nie die ewigheid saam met jou inbeweeg nie? Wat beteken dit as jy al die wêreld se dinge het, die illusie wat jy vir jouself en ander skep, maar nie die ware vrede van God nie?

Die waarheid is: God het reeds Sy grootste geskenk gegee. Jou ware skatte is nie op aarde nie – dit wag op jou in die hemel.

God voorsien in alles – nie net in die tasbare dinge wat ons sien, voel of besit nie. Hy gee ook in geestelike oorvloed – onkoopbare, genade-gevulde gawes van die Gees. Hierdie geskenke is uniek, kosbaar en spesiaal net vir jóú.

Dis nie net oor “bietjie meer” nie – dis oor die nou. Die oomblik waarin jy leef. Die plek waar jy nou is. Wat jy doen met jou hart en jou siel.

Om jou hart oop te maak vir God se geskenke is nie net ’n mooi idee nie. Dit is die kern van jou menswees. Jy is met doel geskep. God het jou gevorm vir ’n roeping – lank voor jy self geweet het jy bestaan.

Jesus het aan jou menswees gedink toe Hy aan die kruis gehang het. Nie oor jou prestasies, voorkoms of besittings nie – maar oor jou gees. Jou liefde. Jou vrede. Dít het Hy gesien. Dít het Hy gekoester.

Wanneer jy werklik besef dat daar bloed vir jou gevloei het, dat Jesus se pyn en alleenheid deel was van ’n plan vir jóú, dan verander alles.

Dis nie net ’n storie nie – dit is jou werklikheid. Of jy dit glo of nie. Dít is die waarde van God se geskenk.

Mag jy vandag stil raak. Mag jy besef jy het nie méér van die wêreld nodig nie – net meer van God. Mag jou hart oop wees vir Sy gawes – dié wat nie gekoop kan word nie, maar deur Sy Gees gegee word, in Sy tyd, op Sy manier.

Onthou: Ons leef nie vir die wêreld se goedkeuring en standaarde nie, maar vir die vrede van God se teenwoordigheid. Jy word nie gedefinieer deur wat jy het nie, maar deur Wie jou het. Jy is geliefd – nie vir wat jy doen nie, maar vir Wie jy is in Jesus Christus. Hy het aan jou gedink aan die kruis. Sy bloed het vir jou gevloei.

Laat die waarheid van hierdie geskenk jou nou-oomblik vul. Laat dit jou hart kalmeer, jou denke lei en jou oë oopmaak vir dit wat werklik saak maak. En as jy jouself in onsekerheid bevind oor wat regtig saak maak, vra vir God, want Hy sal jou lei in 'n opregte verhouding en jou identiteid in Christus versterk.

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde nie ... maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel ... want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
– Matteus 6:19–21

Vergifnis: ’n Vrug van Groei

Op ’n gewone dag, op pad met die N1, het ’n eenvoudige gedagte in my hart geland: Vergifnis is die vrug van groei. Dit het my laat stilstaan en besef hoe diep vergifnis verweef is met die waarde van God se geskenk.

Vergifnis is nie net ’n woord nie – dit is ons bevryding. Dit is Jesus. ’n Oomblik van geestelike volwassenheid. En dit beteken nie altyd dit is net oor om iemand anders te vergewe nie – soms is dit jouself. Jou eie verwagtings. Jou eie gedagtes. Die plekke waar jy jou waarde probeer vind buite God. Die tye wat jy gedink het as ek net ...

Soms moet jy jouself vergewe omdat jy geglo het jy het “meer” nodig om genoeg te wees. Erken dat God nog altyd genoeg was. Dat Hy nooit verander nie – selfs wanneer die wêreld probeer om God se Woord aan te pas by die wêreld se maniere van dinge doen en sê.

Ware groei begin wanneer jy die waarheid in die oë kyk … en eenvoudig die waarde van God se geskenk aanvaar – en dan begin leef. Leef asof jou gees oppad is na die hemelse heerlikheid. Met jou hart. Met jou gees. Met jou hele wese.

Want hoe kan ons groei, as ons nie eers besef hoe kosbaar en wie en wat Jesus vir ons is nie?

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:

Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu,

Al was julle purperrooi, jull sal wit word soos wol.

Jesaja 1:88

Jesaja 188
Scroll to Top