‘n Gesin van voorbeeld in liefde, geduld en geloof

Daar is iets besonders aan mense wat hul wortels diep in die grond van geloof en liefde plant. Die Strauss-gesin is sulke mense — ’n familie wat ek 18 jaar gelede ontmoet het, en sedertdien is hulle soos ’n goue draad wat deur my lewe gevleg is. Hulle dra iets van die plaaslewe in hul wese — eenvoudig, eerlik, eg. Soos die grondpad wat na hul huis lei: soms droog en vol stof, soms nat en glinsterend ná die reën. Maar altyd dieselfde pad — vol hoop, vol lewe, vol geloof.

Op daardie pad het ek ware vriendskap gevind. Ware, opregte mense met goue harte wat oorloop van Jesus se liefde en genade. Ek kan nie eens meer tel hoeveel keer hierdie gesin vreugde en seën in my lewe ingebring het nie.

Ané, van die dag af wat ek haar ontmoet het, is ’n mens met ’n warm hart — ’n vrou wat self al deur baie stofpaaie van die lewe gestap het. Sy weet hoe dit voel as die wind die stof optel, maar sy weet ook dat die reën altyd kom, en dat nuwe saad in sagte grond kan groei. Sy was ook die een wat vir my gesê het: “Carlie, jy neem sulke pragtige foto’s — jy moet dit deel en begin doen!” ’n Vriendin wat my deur dik en dun bygestaan het; iemand vir wie my liefde en waardering deur die jare net gegroei het. Sy is meer as net ’n vriendin — sy is ’n ewige, hemelse vriendin. ’n Vriendin wat troos bring as daar hartseer is, wat saam kan lag, saam kan bid, en saam kan droom. Sy bring soveel vreugde en vrede in my lewe.

Ek neem nou al vir ’n paar jaar foto’s van hulle gesin, en het selfs die jongste seuntjie afgeneem toe hy nog pasgebore was. Dis ’n wonder om te sien hoe die kinders grootword — met daardie selfde lig en liefde wat hul ouers uitstraal. In elke foto sien ek ’n bietjie van daardie plaasgrond — die stof wat stories dra, en die reën wat nuwe lewe bring.

Dankie, Strauss-gesin. Dankie vir julle liefde, vir die manier waarop julle Jesus se liefde uitleef, en vir al julle omgee en ondersteuning deur die jare. Mag ek nog baie kosbare oomblikke saam met julle deel en vasvang — daar waar die grondpad kronkel en die son oor die veld sak.

Freek, jy is meer as 'n yster! Dankie dat jy so ’n goeie man is vir jou vrou en ’n liefdevolle pa vir julle kinders — ’n voorbeeld van ’n man wat met geloof, liefde en nederigheid in Jesus se voetspore stap.

Soos die stofpaaie reën en die saad groei, so bring elke oomblik van liefde en geloof nuwe lewe en hoop.”

“Laat alles wat julle doen, in liefde geskied.” — 1 Korintiërs 16:14

Oor Vriendskap en Ware Mense

In hierdie lewe is vriendskap ’n kosbare gawe — nie iets wat jy koop of verdien nie, maar iets wat groei soos saad in goeie grond. Ware vriende is mense wat jou liefhet net soos jy is — met al jou mooi én moeilik en jou menswees. Hulle is dié wat bly staan wanneer die wind waai, en saam lag wanneer die son weer deurbreek. Dis mense wat nie net jou glimlag sien nie, maar ook jou hart verstaan. Ek het geleer dat sulke vriendskappe nie toevallig gebeur nie — dis God se manier om Sy liefde sigbaar te maak deur ander mense.

Scroll to Top